Morgenzon, ’n wildsplaas wat aan die Krokodilrivier grens, het in 1868 tot stand gekom. Die plaas val in die Limpopo-distrik en is sowat 70 kilometer noordwes van Thabazimbi geleë, tussen twee plekke genaamd Makoppa en Rooibokkraal. Soos die kraai vlieg, is Morgenzon slegs 30 kilometer van die Botswana-grens af. Die plaas beslaan sowat 850 hektaar. Die grootste gedeelte, 780 hektaar, lê wes van die pad tussen Makoppa en Rooibokkraal, en die kleiner gedeelte grens aan die Krokodilrivier.
Ben van der Linde het Morgenzon in Oktober 2005 aangeskaf. Ben se pa, Boet van der Linde, sien tans om na die plaas. Hy is ’n grootwildjagter met meer as 60 jaar ondervinding, en is verantwoordelik vir ontwikkeling en instandhouding op die plaas. Ben het verskeie verbeterings aan die plaas laat aanbring. Een daarvan is ’n ondergrondse wynkelder wat hy in 2008 laat bou het wat sowat 1 500 bottels wyn kan berg.
Morgenzon bied verskeie wegbreekgeleenthede aan mense wat die stilte van die natuur en die ongerepte omgewing wil ervaar. Die plaas leen homself tot jag, visvang, bosberade en spanbougeleenthede, of blote ontspanning in die buitelug. Besoekers bly in die Ramkamp of in die Rivierkamp, na gelang van die groep se grootte en behoefte.